Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
Markus 4:35-41 PowerPoint agtergrond
Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het… (Markus 4) Al is die agtergrond ‘n moderne vaartuig in ‘n stormsee, wil dit angs en hooploosheid midde in ‘n erge storm illustreer. The French Fishing vessel Alf (LS683637) during a storm in Irish Sea. The crew of a Royal Navy vessel rushed to the aid of an injured fisherman trapped by bad weather on the Irish Sea. Die foto is die eiendom van die “UK Ministry of Defense” en is geneem op 21 Maart Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing en redigering toe. Geredigeer met Picasa III. Dit is beskikbaar by 6gU24J-6hX8Ws-i6W43n-amQ1Bg-bAhLsz-6hNnFD-3XnWhq-5fjeaH-3X3YVW-aSRPrK- 4mPXNa-4z7Qz1-jSBn2P-dpG9eg-bfQ2jF-5Mixg-eh6DeM-oZEcpA-fEHu9P-qmwkKz- sbCee2-g2Hx1q-6f3Zj-5eHw3K-pxVkmJ-bnPdrd-6TuK2X-iSvdJ8-mAfMgz-ch9BXN- amQvMv-eQTiLj-cQqrms-hdtXLa-2FPdct-6nmv8-6Ph1y-84YQw1-cVWpZo-4BXsj6- 5hUfAa-fSSYMi-8cATGx-cuACJC-e8huyM-i7RkHo-peNANL-kKeyHx-6k3nQE
2
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede Lied 519 Wees stil en weet: Ek is die Heer of VONKK 123 Wees Stil En Weet of Flam 182 Herder Heer (Herder Jesus) Votum Psalm 8:9-11 8Die Here is altyd op sy troon; op sy regterstoel is Hy steeds gereed vir die regspraak. 9Hy lewer ’n regverdige uitspraak oor alle mense, Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies. 10Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood. 11Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie. Seëngroet Lofsang Psalm 29 of VONKK 271 U’t die storm beveel of Flam 34 Daarom Wet (gebed) O God, in u oneindige wese lê al die skatte van wysheid en waarheid en heiligheid opgesluit. Laat die deugde van ’n Christelike karakter in my vorm aanneem deur my voortdurende gemeenskap met U: Die gawe van ’n dankbare en tevrede hart; die gawe om geduldig op u vrede te wag en u onmiddellik te gehoorsaam as u my roep; die gawe om moedig deur lyding of gevaar te gaan; die gawe om swaarkry te verduur omdat ons vir Christus lewe; die gawe om onbevrees op te staan vir wat reg is; die gawe van selfdissipline; die gawe van eerlikheid teen elke prys; die gawe om ander te behandel soos ek behandel wil word; die gawe van sagmoedigheid, sodat ek ander nie te gou sal oordeel nie; die gawe van beheerstheid, sodat ek nie te gou sal praat nie; die gawe van vergifnis teenoor almal wat my veronreg het; die gawe van begrip vir hulle wat swakker is; die gawe van verlange dat u hierdie gebed sál hoor. Amen (deur John Baillie – – uit Gebedboek met Liturgiese Voorstelle) Skuldbelydenis en genadeverkondiging V: As ons ons sondes bely, God is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. G: Here, ek is ’n sondaar, wees my genadig. V: Kom ons doen saam ’n gebed van skuldbelydenis. A: Genadige God, ons bely dat ons teen U gesondig het, deur gedagte, woord en daad, deur wat ons gedoen het, en deur wat ons nie gedoen het nie. Ons het U nie met ons hele hart liefgehad en ons naaste soos onsself nie. In u groot genade, Here, vergewe ons, help ons op die regte pad, sodat ons u wil sal soek en op u paaie sal stap, tot eer van u Naam. V: Daar is nou vrede tussen jou en God deur ons Here Jesus Christus. (uit: Wepener, Cas Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.) Geloofsbelydenis Lied 501 Ek het, toe wilde storms gewoed het of Flam 147 Wie Is Die Eerste (Dit Is U)
3
God praat met ons en ons luister
Gebed Skriflesing (video) Markus 4:35-41
4
Markus 4:35-41 Fokusteks: Markus 4:35-41
Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: "Kom ons vaar oorkant toe." Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: "Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?" Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: "Hou op! Bedaar!" Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?" Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: "Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?"
5
Familie-oomblik Familie-oomblik
Fokus vandag gewoon op die dramatiese vertelling van die Bybelverhaal: Wys hierdie oulike video as Skriflesing (of sit die video se klank af, oefen jou tydsberekening vooraf en wys die video terwyl jy self die Skriflesing doen): As jy nie die video kan wys nie, kan jy jou eie hulpmiddels maak om die Skriflesing dramaties te doen (of dalk ken jy ’n kreatiewe mens of twee): By storm/ kry jy baie eenvoudige instruksies om ’n prent te maak van ’n bootjie op die see met stormwolke. Die bokant vou oor met geen storms. So wissel die prent dus tussen stormsee en rustige see. ’n Bietjie meer kompleks – maar heelwat meer dramaties! – is die instruksies by hug-17.html. Jy maak ’n bootjie wat jy op ’n stokkie plak. Die stormsee is verskillende blou kartonne. Die bootjie kan dan met die stokkie tussen die kartonne dobber. Jy kan ook vir die mense blou “streamers” gee om te swaai tydens die storm-gedeelte van die Skriflesing.
6
Aberra Wata Preekriglyn
Dit was so hittete of Aberra Wata is tereggestel. Dit het gebeur terwyl hy jeugwerk in Suid-Etiopië gedoen het terwyl die kommuniste aan bewind was ( ). Hy het sy verhaal aan John Cumbers, 'n medesendeling van SIM vertel: 'n Verslag oor Aberra se jeugwerk het onder kommunistiese bevelhebbers se aandag gekom. Hulle het besluit Aberra is 'n verraaier van die kommunistiese saak en moet tereggestel word. Een van die kommandante het hom aangeraai om sy geloof in Jesus te verloën en só sy lewe te red. Aberra wou egter nie. "As ek tereggestel word, is ek onmiddellik by die Here," het hy gesê. Aberra vertel later hoe die Here hom liedere gegee het om in die tronk te sing. Hy en sy medegevangenes het vreugde daaruit geput om lofliedere tot Jesus te sing. Die wagte wou hulle met dreigemente stil maak. Dit het niks gehelp nie. Hoe maak jy mense bang wat weet hulle gaan in elk geval sterf? Aberra vertel hoe ander gevangenes tot geloof in die Here gekom het deur hulle getuienis en sang. Veral een van die wagte het genot geput uit die maak van dreigemente. Hy het koggelend smerige woorde in die lirieke gesit wat die gevangenes gesing het. Een aand het hy op sy rewolwer geklop en belowe: "More-oggend is julle nie langer in die land van die lewendes nie!" Net na middernag het daar 'n geweldige storm losgebreek. Groot haelstene het geval wat verskeie dakke verwoes het, ook die dak van die kamer waar die spottende wag geslaap het. Dié het totaal verskrik geraak, sy rewolwer uitgepluk en blindelingse skote in die donker afgevuur totdat al sy koeëls op was. Die storm het ook die kommandant se huis se dak afgeruk, asook die kantore van die hoofmagistraat en ander staatsgeboue. Van die selle se dakke is ook beskadig, maar Aberra Wata se sel het niks oorgekom nie. Teen 09:00 die volgende dag is die onbeskofte wag ook in die sel gegooi. Die kommandant het hom met sy leergordel geslaan. Op die agtergrond het mense geskreeu: "Ons het hom gesê om die gelowiges uit te los, maar hy wou nie. Nou het God hierdie verskriklike straf op die dorp en die tronk gestuur. Hierdie man verdien van sy eie medisyne." Nadat die wag uiteindelik weer vrygelaat is, het hy gesê: "Ek weet die Here was met julle. Ek het julle sleg behandel, vergewe my asseblief." Aberra Wata sê hulle het hom vergewe, en nog heelwat mense het tot geloof in die Here gekom.
7
Doodloopstraat Doodloopstraat
Die Nuwe Testament vertel dikwels van hoe dienaars van die Here in doodloopstrate beland het, met hulle rug teen die muur. Dan het die Here 'n nuwe pad vir hulle oopgebreek. Aberra Wata se verhaal herinner mens aan Paulus en Silas wat lofsange in die tronk sing nadat hulle geslaan en vasgebind is omdat hulle die Here verkondig het (Handelinge 16). Dan swaai die tronkdeure oop en hulle bewaarder en sy gesin word volgelinge van die Here. Ons dink ook aan Petrus vir wie die tronkdeure oopgegaan het (Handelinge 12). Dit kan baie gevaarlik wees om die Here te dien. Tog is God nie weg nie, en God slaap nie. Menige doodloopstraat op die pad van roepingsvervulling is al oopgebreek deur die nuwe moontlikhede wat God gee. Alles is moontlik. Daar is 'n geskiedenis van wonderwerke wat sê genesing, redding, verlossing, herstel, tweede kanse en 'n nuwe begin gebeur inderdaad. Wonderwerke bied troos, juis omdat die moontlikheid van wonderwerke, hoop skep en gee. Natuurlik is daar ook volgelinge van die Here wat God se werk getrou doen, en uiteindelik in die tronk sterf. Johannes die Doper is 'n voorbeeld. Stefanus is gestenig (Hand. 7), Jakobus die broer van Johannes is deur Herodes doodgemaak (Hand 12), en Paulus self het die evangelie in die tronk verkondig (vgl. Hand 28) maar is uiteindelik volgens oorlewering tereggestel. In die meer onlangse verlede dink mens aan iemand soos teoloog Dietrich Bonhoeffer wat op 39-jarige ouderdom deur die Nazi's tereggestel is omdat hy in verset teen Hitler was. Mense wat getrou die pad met Jesus stap beland dikwels in krisisse, lewensgevaar of doodloopstrate. Tog ontdek hulle ook dat Jesus by hulle is. Tussen vrees en dikwels pyn deur, word hulle vervul met hoop en vrede, wetende dat Jesus die laaste woord sê, en oor alles in hemel en op aarde regeer. Baie, soos Aberra Wata, beleef dat God 'n wonderbaarlike pad oopbreek in hierdie wêreld, aangesien God besig is om God se koninkryk te bring.
8
Na die oorkant toe Na die oorkant toe
Ons teksgebeure speel af wanneer Jesus en sy dissipels "oorkant toe" vaar. "Oorkant" verwys na die gebied aan die ander kant van die See van Galilea, die landstreek van die Dekapolis ("tien stede") en spesifiek die landstreek van die Geraseners. Gerasa was een van die tien heidense stede aan die oorkant, 'n grootliks nie-Joodse kulturele en godsdienstige gebied met 'n ander lewensingesteldheid. Dit verklaar waarom daar 'n groot trop varke gewei het toe Jesus na sy aankoms aan die oorkant die duiwels uit Legio dryf (5:1-20). Jesus is dus besig om van die bekende na die onbekende te beweeg. Hy neem die genade van God na nie-Jode, aan die oorkant. Hy gaan ook daar God se krag aan mense in nood en ellende bring. Vir Markus is hierdie 'n belangrike kenmerk van Jesus se bediening. In Markus 7 en 8 kom Jesus weer in die gebied van die Dekapolis (7:31) waar Jesus 'n doofstom man genees, en waar Jesus vir die menigtes in hierdie gebied brood vermeerder (die tweede vermeerdering van die brood waarvan Markus vertel). Wat in ons teks gebeur, gebeur op pad na die "oorkant" toe waar die regering van God ook gaan deurbreek vir mense wat baie ver van God se genade is. Jesus en sy dissipels is op 'n missionale reis na mense wat nie tans deel is van die geloofsgemeenskap nie.
9
Storm op die see Storm op die see
Op see, op Jesus se missie, beland Jesus se dissipels in 'n massiewe krisis. Die See van Galilea, 'n binnelandse meer in die noordelike provinsie van Israel, is baie laer as seevlak. Dit is in die selfde skeurvallei as die Dooie See, en word deur berge omring. Dit is bekend vir sy vinnige weersverandering en gevaarlike storms. Die komvormige area wat met berge omring is, stel dit bloot aan tornado-tipe winde. Daarom breek hewige storms dikwels en skielik uit. Hierdie storm was besonder erg. Die golwe slaan oor die rand van die skuit, sodat dit vol water begin word het. Dalk was dit meer as 'n gewone storm. Vir Jode was die see 'n gevaarlike, bedreigende plek en ook die woonplek van bose magte. Talle Ou Testamentiese psalms beskryf daarom God se mag as mag oor die see (Ps 42:7-8; 65:7-8; 89:8-9; 107:23-32). Dalk was hierdie 'n bose protes teen Jesus se missie om geloof na die Dekapolis te bring.
10
Rustige slaap Rustige slaap
Terwyl die storm woed, slaap Jesus rustig in die skip se agterstewe. Rustige slaap herinner ons aan Jesus se lering 'n paar verse vroeër oor die boer wat kommervry slaap na die saai van die saad (4:27). Dit wys heen na die wonder van groei en oes in God se koninkryk. Die rustige slaap is ook 'n teken van vertroue in die krag en beskerming van God (Spr 3:32-34; Ps 3:5; 4:8; Job 11:18-19). Die kontras tussen die diep en rustige slaap van Jesus, die stormagtige see en die bevreesde dissipels, dek die tafel om aanstons die krag van die woord van God te beklemtoon. In hulle krisis besluit die dissipels om Jesus wakker te maak: "Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?"
11
Bestraffing Bestraffing
Wanneer Jesus opstaan, bestraf Hy die wind en die see: "Hou op! Bedaar!" (39). Hierdie woorde van bestraffing en stil maak, is gewoonlik gebruik teenoor demone (1:25; 3:12; 9:25; 10:48). Dit is egter hier gepas vanweë die Joodse geloof dat die see die huis van duiwels en demoniese monsters kan wees. Die bedreigende wind gaan lê en daar kom 'n groot stilte, in kontras met die groot storm. Hiermee bereik Jesus wat in die Ou Testament slegs deur God vermag kon word, naamlik oorwinning oor die chaotiese magte van die kwaad (Gen 8:1; Ps 74:13- 14; 104:4-9; 107:25-30). Ons leer Jesus hierin ken as die Een deur Wie God se regering en God se mag uitgeoefen word. Jesus is die Een deur Wie God se koningskap gevestig word.
12
Vermaning Vermaning Jesus praat nie net met die wind en die storm nie, maar ook met sy dissipels. Hy vermaan hulle met twee vrae: "Waarom is julle bang?" en "Het julle dan nie geloof nie?" Die vraag, "Waarom is julle bang?" verwys nie net na vrees nie, maar ook na die gebrek aan moed. Die vraag, "Het julle dan nie geloof nie?," onderstreep die feit dat vir Markus geloof nie net iets van 'n intellektuele aard is nie. Dit behels ook elemente van vertroue in God en dapper aksies (5:34, 36; 9:23-24; 10:52; 13:21). Jesus se vrae impliseer dat dit vir hulle onnodig was om bang te wees. Hulle geloof moes hulle verseker het dat hulle veilig is.
13
Groot ontsag Groot ontsag
Vers 41 beskryf die dissipels se reaksie: "Hulle is met groot ontsag vervul." Merkwaardig is dit nie hulle eie redding en al die emosies wat daarmee gepaard gaan, wat vir die dissipels op die voorgrond is nie. Hulle aandag word getrek deur die storm wat meteens, op 'n blote woord van Jesus, bedaar het. Die vraag voorop in hul gemoed is: "Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?" Die gebeure help die dissipels besef daar is meer aan Jesus as wat hulle tot op daardie stadium gedink het.
14
Dissipelskap Dissipelskap
Hierdie gebeure het alles met dissipelskap te doen. Jesus roep sy volgelinge en beoefen sy bediening saam met hulle. Hy leer hulle saam met die skares, maar veral ook wanneer hulle alleen bymekaar is. In ons teks gaan Hy met hulle na die "oorkant" toe, buite die bekende geloofsgrense, om daar God se genade en heling uit te stort. Op pad soontoe beland hulle in 'n diep, lewensbedreigende krisis. Onderweg op Jesus se missie beland sy volgelinge in 'n geweldige krisis. Maar hulle ontdek ook wat die teenwoordigheid van die Seun van God beteken. Selfs die wind en die see gehoorsaam Hom. Mense lê hierdie teks dikwels simbolies uit. Die see en wind word die bedreiginge vir die kerk, en die bootjie is die Here se mense wat worstel om oorlewing. Dalk is hierdie oorvereenvoudigde en vergeestelikte uitleg egter nie so ver van die waarheid af nie. Dissipels, volgelinge, beleef dikwels dat die wêreld vol wolwe is (soos Jesus dit in Lukas 10 stel). Daar is bedreiginge vir mense wat die Here dien en volg. Bose magte en bose mense neem nie genoeë met 'n missie om God se genesing en herstel, geloof en toewyding aan die Here, uit te brei nie. Daar is opstand wanneer die kerk uit sy groewe kom en die evangelie na buite neem. Vra vir Aberra Wata, vir Johannes die Doper, Paulus en Stefanus, oor hierdie soort opstand. Vra vir Dietrich Bonhoeffer. Vra sommer vir baie mense in jou omgewing wat al iets vir die Here wou doen. Vra enigeen wat al uit die groewe waarin so baie geloofsgemeenskappe vasval, wou kom. Vra mense wat dink eenheid, versoening en geregtigheid is belangrike temas vir die kerk in Suid-Afrika vandag. Probeer die evangelie doen, en die vonke spat. Die troos is dat die Here naby is, en dat Hy die laaste woord oor alle magte en bedreiginge spreek.
15
Oproep tot geloof Oproep tot geloof
Die gebeure is natuurlik veel meer as troos. Dit is veral 'n oproep tot geloof aan Jesus se dissipels. Die feit dat Jesus self sy dissipels kies (Markus 3:7-12), aan hulle die geheime van die koninkryk van God gee (4:10-12), en hulle die bevoorregte gehoor van Jesus is (4:34), beteken nie dat hulle geloof en vertroue outomaties gaan regkry nie. Daarom word hulle hier vermaan en aangespreek oor hul vrees en gebrek aan geloof. In die breër konteks van Markus se evangelie dien die vermaning 'n groter doel. Dit wys dat hulle steeds op reis na ware geloof is. Dit wys dat hulle nou verbintenis met Jesus hulle nie vrywaar daarvan om dieper te moet delf in die misterie en paradoks van God se heerskappy nie. Hulle finale vervulling van ontsag, getuig van hulle eerbied en agting in die teenwoordigheid van God se krag. Dieselfde gebeur ook met ons op die geloofsreis met Jesus. Dit is telkens weer nodig om herinner te word aan geloof en vertroue. Ons is op geen manier outomaties daarvan oortuig dat Jesus se roeping, gehoorsaamheid aan sy leer en vertroue op sy werk die regte weg is om in te slaan nie. Ons moet voortdurend herinner word, en veral wanneer ons misluk of kleingelowig raak, weer en weer hoor dat Jesus die Here is.
16
Oop deure Oop deure Ons teks is 'n belofte. Die belofte is dat Jesus altyd deure vir dissipels oopmaak op God se sending. Dit het in die storm op die see gebeur, ook in die kruis, wat toe nie die einde was van dissipelskap nie, maar die begin. Selfs wanneer God se roeping vir sy kinders in die dood eindig, word die bloed van die martelare die saad van die kerk.
17
God stuur ons om te leef God stuur ons om te leef Gebed Dankoffer
Slotsang Lied 578 Jesus wat my lief het, Heer VONKK 219 Wat die toekoms ook mag inhou Seën Respons Flam 182 Herder Heer (Herder Jesus) Refrein: Daar is waters in woestyne by die Herder se fonteine. As die storms woed in my sal ek daar my rus kom kry.
18
Volgende erediens: 2 Samuel 1:1,17-27 Volgende erediens
Familie-oomblik en Liturgie: Rethie van Niekerk Powerpoint: Wicus Wait Preekriglyn: Danie Mouton Proses en ekstra stof: Chris van Wyk
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com Inc.
All rights reserved.