Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
1 Korintiërs 6:12-20 PowerPoint agtergrond
Dit is bekom met Google Advanced Search – geen kopiereg. Dit is beskikbaar by
2
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede Flam 189 Vul My Hart, O Heer [bekend: “Change my heart, o God”] of VONKK 146 My Gees, My Siel, My Liggaam [bekend – Halleluja lied. Kan ook as toewyding of epiklese gesing word] Lied 162 U self het ons geroep, Heer Votum Psalm 139:13-18 13U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem— hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê. Seën Lofsang VONKK 139 Ek bewonder U, my Heer [nav Psalm 139] Psalm 139 of Lied 184 Lofsing die Here Die Wil van God Henri Nouwen skryf in Bread for the journey: “In so many ways we use and abuse our bodies. Jesus’ coming to us in the body and his being lifted with his body into the glory of God call us to treat our bodies and the bodies of others with great reverence and respect. God, through Jesus, has made our bodies sacred places where God has chosen to dwell. Our faith in the resurrection of the body, therefore, calls us to care for our own and one another’s bodies with love. When we bind one another’s wounds and work for the healing of one another’s bodies, we witness to the sacredness of the human body, which is destined for eternal life.” Tyd vir stil refleksie. Jy kan bogenoemde aanhaling op die skerm gooi, of jy kan mense met vrae in refleksie begelei (onthou om genoeg tyd vir stil refleksie te gee). Vrae soos: dink aan maniere waarop mense se liggame in ons wêreld gebruik en misbruik word; op watter maniere kommodiseer jy jou eie en ander se liggame; Jesus se opstanding roep ons om anders te dink oor ons liggame – op watter maniere moet jy jou liggaam met meer liefde behande; ander se liggame met meer liefde behandel? Waar het jy verby ander se pyn gestap? Waar roep God jou om ander se wonde te erbind; om te getuig oor die heiligheid van ons liggame? Toewyding Flam 413 Ja, Ons Sal Praat En Ons Sal Sê of Lied 308 Neem my lewe, laat dit, Heer (veral verse 2 en 3) Geloofsbelydenis
3
God praat met ons en ons luister
Gebed Lied 254 Spreek Heer [nav die Samuel-teks van vandag] Skriflesing 1 Korintiërs 6:12-20 Familie-oomblik Preek
4
1 Korintiërs 6:12-20 Fokusteks: 1 Korintiërs 6:12-20
Hofsake tussen gelowiges 6 Gaan iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? 2Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake? 3Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge. 4As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien? 5Ek sê dit om julle skaam te maak. Is daar dan nie 'n enkele verstandige mens onder julle wat 'n saak tussen gelowiges kan besleg nie? 6Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige regters? 7Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? 8In plaas daarvan pleeg julle onreg en doen ander te kort, en dit doen julle aan medegelowiges. 9Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God. Verheerlik God in julle liggame 12Daar is mense wat sê: "Alles is my geoorloof." Ja, maar nie alles is heilsaam nie. "Alles is my geoorloof," sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie. 13Hulle sê ook: "Kos is vir die maag, en die maag vir kos." Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. 'n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek. 15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou 'n deel van Christus neem en dit 'n deel van 'n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met 'n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: "Die twee sal een word." h17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom. 18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. h Vgl. Gen. 2:24
5
Familie-oomblik Familie-oomblik
Met kleiner kinders kan jy fokus op hoe spesiaal en kosbaar ons liggame is. KidsXpress het ‘n hele reeks hieroor, getiteld “Wikkelwurms”. Gesels oor die manier waarop God ons liggame gemaak het en hoe ons liggame verskil. Wys verskillende haarkleure, oogkleure, ens. Herinner almal telkens daaraan dat God dit alles gemaak het en daarvan hou. Laat almal bv. aan hul neuse vat. Dalk kan hulle vir mekaar sê watter vorm hulle neuse is (hul eie neuse, nie die ander een s’n nie!). Herinner hulle dan weer dat God elkeen gemaak het en daarvan hou. CLF het oulike pamflette vir kinders wat gaan oor lyfies en sake rondom lyfies, wat jy kan bestel en uitdeel, soos “Ek kan nee sê”. As eksperiment t.w.v. volwassenes, kan jy dalk iets soos hierdie probeer. Vra eers dat al die grootmense in hulle gedagtes dink wat hulle graag aan hul liggame sal wil verander. Vra dan van die heel kleiner kinders wat hulle sal wil verander. Sing liedjies wat dankie sê vir lyfies, soos Flam 234 Ek Kan Sien of Lied 550 Twee ogies om Gods werk te sien Hier is ’n inkleurprent en aktiwiteit.
6
Paulus en die Korintiërs
Preekriglyn Die gemeente in Korinte moes naby aan Paulus se hart gelê het. Hy skryf meer aan die Korintiërs as aan enige ander gemeente, en hy bespreek meer konkrete uitdagings in hierdie briewe as in enige ander. Hy ken die Korintiërs duidelik baie goed. Hulle het hom ook meer pyn besorg as omtrent al die ander gemeentes saam. Wie was die Korintiërs? Dit was 'n uiteenlopende groep mense, hoewel verenig deur hulle geloof in Jesus Christus. Van hulle was Joods, ander uit heidense agtergrond, sommige ryk en ander arm, geleerd en ongeletterd. Paulus weet hoe moeilik dit vir sulke uiteenlopende groepe kan wees om oor die sake van elke dag saam te stem. Daarby moes hulle hul geloof uitleef in 'n vyandige omgewing.
7
Agtergrond Agtergrond
Die groter konteks vir ons teksgedeelte is die verdeeldheid in die Korintiese gemeente (hoofstukke 1 en 3) en die seksuele wangedrag in die gemeente waaroor Paulus berigte ontvang het (5:1). Daar was gevalle van Christene wat mekaar hof toe gevat het (6:1-8) wat Christene 'n slegte naam in die omringende heidense gemeenskap gegee het. Ons teks dien as't ware as 'n brug tussen die voorafgaande en die volgende hoofstukke. Die tema van ons teks word aan die einde van hoofstuk 6 aangedui: "Julle moet God in julle liggaam verheerlik" (20). In die aanloop tot ons teks (die onmiddellik voorafgaande gedeelte) herinner hy die Korintiërs dat "mense wat onreg doen" nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (9), waarna Paulus 'n hele lysie immorele gedrag beskryf. Dan stel hy sy argument op: die Korintiërs se sonde is afgewas, hulle is geheilig en vrygespreek in die Naam van Jesus en deur die werk van die Heilige Gees (11). Daarmee is Paulus gereed om die spesifieke probleem van ons teksgedeelte aan te spreek. Die sentrale tema is 'n saak wat Paulus herhaaldelik hanteer: "Aangesien ons deur genade vrygespreek is en nie langer onder die wet staan nie, wat is dan die grense van hierdie vryheid wat ons ontvang het?" Dis byna dieselfde vraag wat Paulus in Romeine aanspreek: "Moet ons aanhou sondig sodat die genade kan toeneem?" (6:1). In sy brief aan die Galasiërs spreek hy dieselfde saak aan: "Moenie julle vryheid gebruik as 'n geleentheid om sonde te doen nie" (5:13).
8
Geen skeiding Geen skeiding
In ons teks spreek Paulus Korintiërs aan wat gedink het die Christelike geloof gaan net oor die mens se gees. Die Griekse dualisme (skeiding) tussen liggaam en gees was ongetwyfeld hoe party van hulle se koppe gewerk het. Dualistiese denke beperk godsdiens tot die gees en siel. Dit dink godsdiens het nie regtig met die liggaam te doen nie, want geloof behoort tot die gees of siel. Wat mens dan met jou liggaam doen het niks met jou godsdiens te doen nie. As jy so dink, kan jy met jou liggaam doen wat jy wil – sonder dat dit jou geloof raak. Paulus dink vanuit die Ou Testamentiese agtergrond waarvolgens die mens 'n eenheid is. Die hele mens is die tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 3:16-17) en misbruik van die liggaam is 'n vergryp teen die Heilige Gees wat in gelowiges woon. Ons teks help ons as moderne mense geweldig baie. Ons dink nog steeds godsdiens is iets vir die gees of siel, met min impak op ons liggame, besittings of die wêreld daarbuite. Die Griekse dualisme (skeiding) tussen liggaam en gees leef voort. Dit lei tot die volgende probleem. Baie moderne mense meen ons is vry – vry om self te besluit wat vir ons reg of verkeerd is, vry om te kies wat vir ons werk en wat nie. Dit lei tot wanopvattings oor Christelike vryheid. Dieselfde probleem as wat Paulus 2,000 jaar gelede in Korinte aangetref het.
9
Uitdagende gesprek Uitdagende gesprek
Die opmerklik kenmerk van ons teks is die wyse waarop Paulus werklik hier met die Korintiërs in persoonlike gesprek tree. Hy gebruik 'n kontrasterende styl van oorreding waar hy telkens 'n opinie stel en dit dan uitdaag of kontrasteer met sy eie opinie. Daarbenewens is retoriese vrae volop. Paulus span dit juis in om sy argumente te staaf. Hy sluit uiteindelik in vers 20 af met die hoogtepunt van sy argument: Duur is hulle gekoop. Daarom hoort hulle God in gees en liggaam te verheerlik. Vervolgens word die inhoud van die perikoop in drie dele bespreek: 12-14, en
10
Heerskappy van Jesus Heerskappy van Jesus
Die tema van verse is: Christelike vryheid binne die raamwerk van die heerskappy van Jesus. In vers 12 en 13 begin Paulus telkens die eerste deel op 'n oënskynlik positiewe trant met 'n aanhaling of slagspreuk (hetsy die Korinte se eie opinie, of meer algemene filosofiese slagspreuke van die tyd), wat hy dan in die tweede deel korrigeer met sy eie interpretasie (voorgestelde lees in kursief, gebaseer op die 1933-vertaling): Vers 12a. Daar word gesê: "Alles is my geoorloof," maar ek sê vir julle: "nie alles is nuttig nie.„ Vers 12b. Daar word gesê: "Alles is my geoorloof, maar ek sê vir julle: "ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.„ Vers.13a. Daar word gesê: "Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak." Vers 13b. Maar ek sê vir julle: "En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam.„ Wat beteken die vryheid van volgelinge van Jesus vir hulle liggame, veral as dit lei tot die seksuele misbruik van hierdie vryheid? Twee maal herhaal Paulus die uitdrukking, "alles is my geoorloof" (12) en twee maal daag hy die uitdrukking uit. Die eerste maal met 'n redelik voor die handliggende stelling, naamlik dat alles nie noodwendig nuttig/bruikbaar is nie (en gevolglik nie hoef beoefen te word nie); die tweede maal deur aan te dui dat 'n bepaalde beoefening van vryheid as 't ware net weer tot 'n vorm van oorheersing (in die geval, 'n slaaf van seksuele begeertes). Die misbruik van vryheid kan dus lei tot 'n nuwe vorm van slawerny. Selfs binne die Grieks-Romeinse konteks was beheer oor passies en begeertes 'n deug om na te streef en is daar neergesien op "onbeheerste" persone. Die effek van onbeheerstheid was nie net sleg vir die individu nie, maar veral vir die gemeenskap wat daaronder ly. Met verwysing na voedsel en die maag (13a) merk Paulus op dat die liggaam nie geskep is vir die bevrediging van behoeftes nie, maar vir die Here – en die Here vir die liggaam. Dus: die Here, sy heiligheid en sy verlossingswerk, het beslis 'n effek op die manier hoe ons liggaamlik leef. Jesus het liggaamlik vir ons sonde gesterf, sodat ons liggaamlik vir die Here kan leef.
11
Liggaamlike opwekking
In vers 14 kom die hoogtepunt van hierdie deel van Paulus se argument ter sprake: Jesus is "in liggaam" opgewek (nie net in siel nie). Daarom geld dieselfde belofte vir sy volgelinge. Dieselfde krag wat die liggaam van Christus uit die dood uit opgewek het, sal ook die "liggame" van sy volgelinge opwek. Hier is dus 'n toekomsverwagting wat implikasies het vir sowel die hede as die toekoms asook vir beide die liggaam en die siel. Ons opstandingsgeloof, skryf Paulus, begrond in die liggaamlike opstanding van Christus, dwing ons tot die voortgesette morele waarde van 'n liggaamlike bestaan. Hierdie skakel tussen die opwekking van Jesus en gelowiges is wesenlik belangrik in 1 Korintiërs en sal in hoofstuk 15 'n hoogtepunt bereik. Paulus sê hier as 't ware: as liggaamlike wesens is ons deel van die opgewekte liggaam van Christus. Dit beteken ons liggaam verteenwoordig Jesus se liggaam. Hoe behandel ons hierdie liggaam? Hoe getuig ons met ons liggaam dat Jesus ons verlos het?
12
Eenheid met Christus Eenheid met Christus
Die tema van verse is: Eenheid met Christus en dit wat 'n mens met jou liggaam doen. Paulus gaan voort met drie stelle retoriese vrae om sy stelling in vers 13b te bevestig (in 15, 16, 19). Onderliggend aan al drie vrae is die Bybelse verstaan van heiligheid. Binne die raamwerk van heiligheid is grense en die nie-vermenging van kategorieë sentraal (sien bv Lev 11 en Deut 14). Vandaar maak dit sin dat Paulus homself so sterk uitdruk. In vers 15 stel Paulus die kontras tussen gelowiges se liggame as lede van (die liggaam van) Christus, teenoor lede van (die liggaam van) 'n prostituut. Dit gaan daaroor dat die Korintiërs faal om hulle verhouding met Christus bo enige ander verhoudings te stel, insluitende verhoudings wat porneia behels. Iemand wat in 'n verhouding met Christus staan, kan nie terselfdertyd ook in 'n verhouding met porneia wees nie. Deur prostitute te besoek, weerspreek die Korintiërs die heerskappy van Christus oor hulle lewe en ontken die opstandingslewe wat nog vir hulle voorlê. Hulle tree ook op 'n manier op wat die liggaam van Christus skade en selfs geweld aandoen. In vers 16 stel Paulus die kontras tussen verenig wees in "een vlees" met Christus, teenoor verenig wees in "een vlees" met 'n prostituut. Die Korintiërs faal om die volle aard van hierdie soort seksuele verhouding te begryp: dit behels dat twee een word (soos die soort intimiteit beskryf in Gen 2:24). Seksuele omgang met 'n prostituut is 'n heelliggaam-ervaring, wat daarom nie eenvoudig afgemaak kan word as die bevrediging van drange ('n "no strings attached" benadering) nie. Hierdie soort intieme verbintenis is ook onversoenbaar met die gelowige se intieme, een-gees verhouding met die opgestane Here (17). Sodanige seksueel intieme taal as beskrywing van God se verhouding met sy kinders, is nie vreemd binne die konteks van die antieke wêreld nie (alhoewel dalk wel vir hedendaagse lesers). Meermale verwys die Ou Testament na die verhouding tussen God en die volk as 'n huwelik en druk getrouheid (en ontrouheid) in seksuele terme uit. Paulus gebruik self ook graag die beeld (vgl 2 Kor 11:2). Die "geestelike" huwelik tussen Jesus en sy volgelinge impliseer ook 'n bepaalde eienaarskap van hulle liggaamlikheid soos wat dit die geval is vir huweliksmaats. Maar dit is ook meer as net "liggaamlike" eenheid wat tussen die Here en sy volgelinge veronderstel word; dit is juis ook 'n geestelike eenheid. Die lewegewende Gees van God self maak hierdie geestelike eenheid moontlik.
13
Vermaning Vermaning Die tema van vers is: Vermaning oor onversoenbaarheid tussen seksuele immoraliteit en Christelike identiteit. Paulus se opdrag aan die Korintiërs is om hulle te weerhou van enige handeling van porneia. Dit is hulle identiteit in Christus. Daar is dringendheid in sy keuse vir die bewoording van die opdrag (18a): "vlug". Vers 18b bied die motivering vir hierdie opdrag om te "vlug", naamlik dat sogenaamde "gewone" sonde wat 'n mens doen, buite die liggaam is, maar wie porneia bedryf, sondig teen hulle eie liggaam. Die effek van seksuele immoraliteit is potensieel erger as ander sonde. Die veronderstelling is dat porneia die heerskappy van God oor die mens bedreig soos wat geen ander sonde kan nie. Met "die liggaam" bedoel Paulus die fisieke bestaan as geheel. Die liggaam is eerder die netwerk van menswees in al die moontlike fasette waaruit dit kan bestaan. Daarom dat porneia ook elke deel van menswees affekteer, ten diepste die mens se verhouding met God. Vers 19 beklemtoon hulle liggame is tempels: dit beteken hulle liggame is heilig omdat dit plekke geword het waar die Heilige Gees teenwoordig is. Sommige Korintiërs tree egter op asof dit nie die geval is nie. Daardeur vernietig en besoedel hulle die geheel. Vers 19b-20a span die taal van slawerny in en eggo vers 12b. Aangesien God hulle "duur" gekoop het, is hulle onder 'n bepaalde verpligting: om God te verheerlik in liggaam "en" in gees, want beide behoort aan God. Dit is eerder waarin liggaamlike verhoudings volgens hulle ware bestemming georden is: die heerlikheid van God wat Christus liggaamlik opgewek het en ons liggame ook sal opwek deur sy krag.
14
Positief oor seksualiteit
Mens moet versigtig wees om hierdie teks nie te lees as "moets" en "moenies" rondom seks nie. Dit klink dalk so. Ons moet onthou dit kom uit Paulus se afgryse oor die dualisme van die Korintiërs en die misbruik van hulle vryheid. Sodra mens bietjie dieper delf kom jy agter hoe positief Paulus oor die liggaam en oor seksualiteit is. Vir hom is die seksuele nie "stout" of "'n verkeerde ding" nie. Hy is positief dat ons liggaamlik geskep en liggaamlik deur Jesus verlos is. Ons roeping is om ons liggame vanuit ons verhouding met die Here te verstaan en te leef. Ons moet die Here met ons liggame verheerlik.
15
Hoe leef die gemeente? Hoe leef die gemeente?
Paulus se doel met die gesprek is groter as om net sg. individuele sondes te bekamp. Paulus is besig om die identiteit van die Christelike gemeente te beskryf. Hoe lyk die gemeente se lewe? Hoe lyk dit waar mense die vryheid wat Christus van die sonde bring, beleef? Wat is die geloofsbakens waarvolgens 'n Christelike geloofsgemeenskap behoort te leef? Hy praat met 'n jong geloofsgemeenskap wat nog uitpluis wat vryheid in Christus beteken, en waar die grense vir hulle gedrag lê. Paulus herinner hulle dat liefdelose seksuele praktyke tussen (waarskynlike) vreemdelinge, slegs gerig op fisieke bevrediging, nie deel behoort te wees van die lewe van gelowiges nie. Fisieke bevrediging kan nie losgemaak word van ons geloof nie, want ons is fisies gered en ons verwag die fisiese opstanding van ons liggame.
16
S-woorde S-woorde Seksualiteit en spiritualiteit is twee belangrike woorde. Volgens Paulus raak die grense tussen seksualiteit en spiritualiteit onsigbaar vir mense wat hulle identiteit in Jesus Christus vind. Die een het alles met die ander te doen. Paulus het geen probleem om met gemak te benadruk dat God en God se verhouding met ons deel uitmaak van elke aspek van ons menslikheid nie. Inteendeel, hy verwoord in intieme liggaamlike taal die wyse waarop ons aan die Here verbind is. Hoe bevrydend is dit nie om die vryheid van die opstanding so te mag vier nie! Deur die goeie, die mooi en die pret van ons liggaamlikheid en seksualiteit op 'n gesonde en helende wyse uit te leef, verheerlik ons God. En Paulus nooi ons juis uit om dit te doen! So kan die liggaam die gees versterk en andersom. Seksualiteit is 'n uitnodiging tot 'n diepe spiritualiteit en bewussyn van God.
17
Ongemaklikheid Ongemaklikheid
Gegewe die Christelike tradisie se ongemaklike verhouding met seksualiteit (reëls eerder as viering, oordeel eerder as aanmoediging, stilswye eerder as gesprek), kan dit baat om op 'n gepaste wyse tog hierdie doodnormale ervaring van menswees op die tafel te plaas en te vra: Wat is dan gesonde en lewegewende seksuele praktyke, benaderings tot seksualiteit, in ons hedendaagse konteks? Hoe behoort ons oor seksualiteit te praat – as en met kinders, tieners, paartjies, getroudes, enkellopendes, volwassenes, bejaardes, weduwees, wewenaars, geskeides? Hoe begelei ons as geloofsgemeenskap ook mekaar as medegelowiges om self hierdie vraag te beantwoord (eerder as om 'n bloudruk dokument vir mense in die hand te wil druk)?
18
Misbruik van vryheid Misbruik van vryheid
In 'n gebroke wêreld soos ons s'n, kan ons ook nie anders as om onsself af te vra nie: Wat is die effek van die misbruik van vryheid ten opsigte van seksualiteit in ons eie konteks? Die statistieke oor seksuele geweld en verkragting spreek vanself; ervarings hiervan is deel van elke gemeenskap in ons land – gelowig of nie. Pornografie en ander seksueel eksplisiete materiaal is vrylik beskikbaar (dink maar aan bemarking, musieklirieke, video-materiaal). Jong kinders en vrouens is dikwels slagoffers in die proses. Prostitusie word oraloor bedryf. Sekswerkers se verhale is dié van seer en desperaatheid – tot bepaalde keuses gedwing ter versorging van kinders en oorlewing. "One night stands" is vir talle persone, jonk en oud, 'n manier om vir 'n oomblik te ontsnap uit 'n sinlose bestaan; vir ander is dit eenvoudig 'n manier om begeertes te vervul. Wat is gelowiges se reaksie hierop? En waar bevind ons onsself in terme van hierdie wêreld? Hoe lyk die rol van die kerk – hulle wat deel het aan die liggaam van Christus – in 'n konteks waar liggaamlikheid vir mense verskillende dinge beteken?
19
Ons gemeente Ons gemeente
Ons gemeente het werk om te doen. Ons is geroep om ons verhouding met God getrou na liggaam en gees uit te leef. Ons druk ons oorgawe aan Jesus Christus met liggaam en gees uit. Dit beteken dat ons moet afsien van sekere dinge. Daar is seksuele gedrag wat nie pas by Christene nie. Ons moenie daaraan deel hê nie. Tweedens moet ons nuut leer praat oor die seksuele. Dit is deel van ons geloof om die Here seksueel liggaamlik te dien. Ons moet met ons kinders en jongmense daaroor praat. Ons bring dit in verband met ons verhouding met die Here, wie liggaamlik uit die dood opgewek is en ons liggame eendag nuut gaan maak. Ons moet meer erns met ons liggame in ons geestelike byeenkomste maak. Ons moet meer lag en huil, meer beweeg en die Here loof. So skep ons 'n geloofsgemeenskap wat weet dat ons liggaamlik tempels van die Here is.
20
God stuur ons om te leef God stuur ons om te leef Gebed Dankoffer
Slotsang Flam 129 Hier Is My Lewe of VONKK 287 Die heerlikheid van God of VONKK 286 Na u beeld, Heer of Lied 286 Here God van liefde of Lied 284 Laat, Heer, u vrede deur my vloei Seën Respons Een van die “Amen” liedere
21
Volgende erediens: 1 Korintiërs 7:29-31
Liturgie en familie-oomblik: Rethie van Niekerk Powerpoint: Wicus Wait Preekriglyn: Danie Mouton Prosesbestuur en ekstra stof: Chris van Wyk
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com Inc.
All rights reserved.